KUNSTENAARS EN UITREIKINGS

ONTMOET ONS KUNSTENAARS


Snyman Musiek Produksies is die trotse platemaatskappy van welbekende kunstenaars wat die land vol toer. Hier onder volg die kunstenaars wat eintlik geen bekendstelling nodig het nie.

Die Broers

Trio sanggroep

Die Broers, Christo, Cobus en Nic is alombekend vir hul harmonieuse sang en polsende liedjies. Hulle maak al van jongs af saam musiek en het reeds op laerskool in kore gesing en formele opleiding in onder andere klavier, trompet, kitaar en kontrabas ontvang. Die Broers het musiek as voltydse beroep gekies en toer vandag die land vol met konserte en optredes. Hulle het sewe albums en drie DVD’s op hul kerfstok waarvan twee albums en twee DVD's goue status met verkope bereik het. Die CD, “Broers Grootste Treffers Live”, is ‘n lewendige opname tydens ‘n konsert van al hul grootste treffers soos “Huistoe", "10 000 myl", "Toeter Skoeter", "7x70", "Jonk Bly", "Trein na Margate”, en vele meer. Drie geestelike albums vind ook groot byval by die publiek. Die eerste het baie vinnig goue status verwerf. Hul onlangse eie komposisie “Groen en Goud” was vir ‘n volle jaar die temaliedjie vir die gewilde TV-program “Toks en Tjops”
‘n Hoogtepunt was hul optrede tydens die internasionale rugbyraad se 3-nasies wedstryde tussen Nieu-Zeeland, Australië en Suid-Afrika waar hulle die nasionale volkslied voor drie van die wedstryde uitgevoer het. Hulle het ook saam met die wêreldbekende Bala Broers die volkslied tydens die afgelope Britse leeus-toer op Ellispark gesing. Christo is ook ‘n ervare seremoniemeester. Die Broers is beskikbaar vir optredes landwyd.

Christo & Cobus

Duet sanggroep

Christo & Cobus is reeds24 jaar saam op die verhoog as ‘n duo, en word beskou as een van die mees veelsydige kunstenaars in die land. Benewens hul eie treffers soos "Trein na Margate" en "7x70" is hulle ewe gemaklik met van die gewilde nommers van ons tyd en kruis maklik oor na verskeie genres. Christo het ‘n solo-album “Three Chord Lovesongs” die lig laat sien en Cobus twee country albums “Live Laugh Love Country” en “Cowboys & Crooks”. Christo & Cobus is gereeld te sien by danse, konserte, troues, korporatiewe- en privaatfunksies en oral waar musiek 'n lekker aand moet verseker.

Nic Stevens

Solo-sanger en musikant

Nicolaas Stephanus Snyman is op 28 Julie 1975 te Kaapstad gebore. Sy verhoognaam Nic Stevens is te danke aan die feit dat sy eerste CD in Engels was en in opdrag van sy platemaatskappy moes hy 'n Engelse naam hê. Hy het egter oorgeskakel na Afrikaanse musiek en sukses behaal met treffers soos “Jonkbly”, “Dis altyd lente” en “Toeter Skoeter”. Hy het ook ‘n briljante “tribute” album vrygestel en ook konsterte aangebied onder die titel “Nic Stevens sing die musiek van Brian Adams”. Met sy lewenslustige optredes is hy immergewild onder jonk en oud. Deur die jare is hy genomineer vir verskeie toekennings en sy CD's is gereeld onder die top verkopers.

Izak Davel

Solo-sanger

Met ‘n dansdiploma en sy dans- en sangtalent, het Izak talle titelrolle op die verhoog, op TV en in rolprente vertolk. Op die verhoog was hy te sien in “Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat”, “Jesus Christ Superstar”, “The Sleeping Beauty”, “Pippen”, “The Queen Show “en “Life at Centre Stage”. Op TV was hy in Egoli, Isidingo en Sterlopers.Sy rolprentloopbaan sluit in die hoofrol in “Getroud met Rugby”, en, BBC-fliek “Uncle Max”. In die musiekwêreld het hy reeds vyf CD's op sy kerfstok. As nuwe “SMP Kunstenaar” word daar nou aan sy nuutste CD gewerk. “Ek doen elke vertoning asof dit my laaste is”, bevestig hy. Hierdie benadering maak hom baie gewild onder sy mede-kunstenaars en sy aanhangers. Konsertgangers kan dit bevestig – jy kry 100% energie, 100% dansritmes, 100% musiek en 110% Izak Davel. As seremoniemeester verleen hy styl en finesse aan enige funksie. Sy warm persoonlikheid en humoristiese aanslag verseker dat kliente net lof en waardering het vir sy bydrae tot die sukses van hul funksies. Sjarme, waardigheid en professionaliteit word in oormaat gewaarborg!

Die Wildberries

Duet sanggroep

Die Wildberries bestaan uit Marcelle Bosman (sang) en Christian Uys (kitaar & agtergrondsanger). Marcelle is gebore in Brackenfell en het matrikuleer aan Hoërskool Bellville, waar sy ook WP-kleure in Sang en Dans verwerf het. Sy sing al van kleins af, maar ontvang formele sangonderrig vanaf 2007. Na skool studeer sy toerisme, en vanaf 2011 tree sy voltyds op as solokunstenaar. Christian is gebore in Heidelberg in die Kaap waar hy ook matrikuleer het. Hy het in ‘n baie musikale huis groot geword. Na skool betree hy die bemarkingsomgewing tot en met 2009, waarna hy voltyds tot die musiekbedryf toetree en vir verskeie “bands” speel.
Aan die begin van 2013 smee Marcelle en Christian bande as ”Die Wildberries”. Met Marcelle se goue stem, Christian op die kitaar en hulle warm persoonlikhede bly hulle vars met ‘n kombinasie van oorspronklike en “cover”-musiek”. ‘n Country Pop Duo, wat jy nie wil mis nie! Hulle spog met twee CD's. Hul 2015-CD “Kom Winter Kom Somer” is baie goed ontvang. In April 2016 het hulle by die SMP-span aangesluit. Hul eerste enkelsnit en musiekvideo, “Jy is die een vir my”, beide vervaardig deur SMP, is in Junie 2016 vrygestel.

Pieter Smith

Solo-sanger

Pieter Smith is 19 Augustus 1975 in Potchefstroom gebore en het op 4-jarige ouderdam begin kitaar speel. Hy ontvang formele musiekonderrig vanaf ouderdom sewe. Na sy skoolloopbaan word hy deel van verskeie Rock-groepe. Hy betree die onderwys as musiekonderwyser by Laerskool Queenswood, en verskaf onderrig in kitaar, koor en revue, maar gaan voort om by kuierplekke in Hatfield Square te sing. Tydens 2001 roep hy die onderwys vaarwel en tree voltyds op as musikant. Hy skryf self sy liedjies, en spog tans met 9 CD's. Sy eerste treffer “Vir jou sal ek blomme koop” en die jongste “Stukkie Van Der Merwe” is ewe gewild. Na ‘n stilte van vyf jaar word sy nuutste album in 2016 deur SMP vervaardig en uitgegee.

Louis Loock

Solo-sanger

Louis is deesdae bekend as een van Suid-Afrika se geliefde tenore. Sy ligte klassieke aanslag, met ‘n fyn aanvoeling vir ligter musiek, maak hom ‘n welbekende stem en persoonlikheid in Suid-Afrika. Hy was deel van die groep Romanz wat enorme suksesse behaal het, beide in Suid-Afrika en internasionaal. Sedert 2013 betree hy verskillende verhoë en teaters, en begin ook optredes doen in Australië. Louis skilder ook graag, en het ‘n groot passie vir sy herkoms. Hy het reeds ‘n kortverhaalbundel gepubliseer, ‘n Plekkie onder die Son, wat ‘n komiese blik op die mensdom en ‘die kunstenaar’ is.
Louis het reeds twee solo-albums uitgereik: ‘n Nuwe Môre, en Skatkis/Tesoro (laasgenoemde vervaardig en uitgegee deur SMP; 2015). Sy jongste CD word tans opgeneem by SMP studio 1.

Thys die Bosveldklong

Solo-sanger & vermaaklikheidspersoonlikheid

Thys is in 1974 te Bellville gebore. Hy is die wenner van die 2009 SAMA-toekenning vir Afrikaanse komedie, twaalf Goue en Platinum CD-toekkenings, en drie Goue DVD-toekennings. Hy is 'n Meesterafslaer (SA College of Auctioneering), komediant, TV-aanbieder & vervaardiger, bemarker, en ambassadeur vir Downsindroom Pretoria. In 2002 het hy ook sy filmdebuut gemaak saam met Steve Hofmeyr. Thys die Bosveldklong se konserte en musiek is heerlik humoristies, skreeusnaaks en word geluister en geniet deur oud en jonk. Hy sing oor als wat snaaks is en skeer graag met alles en almal (insluitend homelf) die gek. Na ‘n vyfjaar-lange “stilte” neem hy sy nuutste CD “Looks is nie alles nie” by SMP op.

Wicus van der Merwe

Solo-sanger & vermaaklikheidspersoonlikheid

Willem Jacobus van der Merwe (Wicus) is gebore op Clanwilliam op 17 Julie 1972, eersteling vir pa Tolla en ma Marieta van der Merwe. Hy matrikuleer op Hoërskool Clanwilliam en verwerf 'n BA op Stellenbosch, met Sielkunde en Drama as hoofvakke. Sy eerste rol as toneelspeler was die van ‘n mier in 'n laerskool-produksie. In Desember 2002 sluit hy sy eerste platekontrak waarna 6 CD’s en 2 DVD’s voortspruit. Daarvan het 4 Goue status bereik, twee het SAMA-benoemings gekry, en een 'n Ghoema- en Tempo-toekenning vir die beste komedie-album. Wicus was vir twee jaar die aanbieder van sy eie TV-program op kykNET en die afgelope vyf seisoene is hy al die mede-aanbieder van die TV-program “Jou Show” met Emo Adams. Hy was ook twee keer seremoniemeester by Skouspel en Skouspel Plus. As sanger tree hy gereeld op. In 2016 sluit hy sy kunstenaarskontrak met SMP, en sy eerste CD onder hierdie vaandel is tans onder produksie.

Karin Ferreira

Solosangeres

Karen het al musiekliefhebbers in die heel eerste reeks van Idols beïndruk toe sy in die sewende plek geëindig het. Daarna het sy die Zing!-musiekkompetisie saam met sangmaat Reneé gewen, maar daarna besluit om eerder op 'n solo-loopbaan te fokus. Sy tree gereeld in konserte en by ander geleenthede op. Haar debuutalbum, Altyd joune, het in 2005 die lig gesien en is opgevolg met Dans met my, wat in 2007 die winkelrakke getref het. Sy is ook betrokke by die skryf van haar eie liedjies. Haar nuutste album "Tokkelos" is vervaardig en vrygestel deur SMP

Viljoen Retief

Solo-sanger

Viljoen Retief maak sy debuut in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf in Maart 2007 met sy eerste CD getiteld Jou Wêreld Wag. Met dertien oorspronklike snitte maak hy sy merk as liedjieskrywer, sanger en musikant, met sy musiek wat oud en jonk raak. In 2009 teken hy sy eerste volwaardige platekontrak by SMP en neem twee albums op getiteld Soos die wind en Droomvanger. Met Viljoen se uitsonderlike liedjieskryf-talent skryf hy ook liedjies vir ander SMP-kunstenaars. Hierdie kunstenaar met sy pragtige stem en besonderse persoonlikheid is 'n treffer met sy lewendige optredes.

Jovan & Thelma

Sangpaar

Hierdie talentvolle duo het hul merk gemaak in die Zing!-kompetisie waar hulle onder die Top 10 beland het. Hulle het in die tussentyd nie die normale roete gevolg en dadelik 'n album opgeneem nie, maar eers die kat goed uit die boom gekyk en SMP in hul vertroue geneem vir hul eerste album met die titel "Rondomtalie liefde". Hulle musiekvideo met dieselfde titel is ook deur SMP vrygestel.

UITREIKINGS EN BEKENDSTELLINGS DEUR SNYMAN MUSIEK PRODUKSIES


Snyman Musiek Produksies het al 'n hele paar albums van hul kunstenaars met trots uitgereik.