WELKOM BY ONS ATELJEE

Meer oor Snyman Musiek Produksies en Die Broers


Gedurende 2000 was Christo en Cobus met ’n 50% aandeel, stigterslede van die platemaatskappy, Maroela Musiek. Twee jaar later verkoop hulle hierdie aandeel in Maroela en bedryf sedert November 2002 hul eie platemaatskappy onder die naam SMP (Snyman Musiek Produksies BK). Die jongste broer, Nic word later die derde vennoot. Vandag is SMP ’n gevestigde naam in die musiekbedryf met verskeie kunstenaars onder hul vaandel. Die maatskappy beskik oor hul eie klankateljees en vervaardig en bemark ook CD’s vir verskeie kliënte. As platemaatskappy verskaf SMP ’n eksklusiewe, persoonlike, betroubare, hoë gehalte en bevredigende diens aan kliënte. SMP is ’n familiesaak en alle werksaamhede word deur die drie broers behartig. Al drie broers is kranige liedjieskrywers. Hulle skryf nie net die meeste van hulle eie liedjies nie, maar skryf ook liedjies vir sommige van hul kunstenaars. Die huidige kunstenaars onder SMP se vaandel sluit in, Die Broers, Christo & Cobus, Nic Stevens, Louis Loock, Thys Bosveldklong, Wicus van Der Merwe, Pieter Smith, Izak Davel, Karen Ferreira, Viljoen Retief, Jovan & Thelma en Die Wildberries.

2

Professionele
Klankateljees

Die SMP-ateljee

Die ateljees word beman deur Cobus Snyman en Nic Snyman (bekend as Nic Stevens), as klankingenieurs en Christo Snyman as regisseur. Christo is ook verantwoordelik vir al die bemarking. Wat die ateljee-opnames uniek maak is dat alle verwerkings self deur hulle gedoen word, met die uitsondering van perkussie, al die instrumente deur hulle self bespeel word. Hulle verkies ook om so min as moontlik gebruik te maak van elektroniese klanke. SMP plaas ’n groot premie op klank kwaliteit en daarom is die struktuur van ateljee 1 volgens wêreld-aanvaarde akoestiese spesifikasies ontwerp en met hoë kwaliteit moderne toerusting toegerus. Ateljee 2, ietwat kleiner, maar met dieselfde toerusting, word grotendeels vir vooraf-produksie, sowel as ander geselekteerde produksies aangewend. Saam funksioneer die twee ateljees uitstekend. Die bekwaamheid, ondervinding en musikaliteit van die broers verseker die uitstekende hoë kwaliteit van die finale produk. Benewens die vervaardiging van albums, doen SMP ook oorklankopnames en die vervaardiging van advertensies. ’n Nuwe toevoeging is dat SMP nou ook sy eie musiekvideos en DVD’s vervaardig.

Nic Stevens

Lewendige opnames


Daar word gebruik gemaak van top kwaliteit instrumente om lewendige opnames te doen vir musiekproduksies.

Ervaring en die tweede ateljee

Die Snyman-broers se eerste klankateljee is reeds in 1998 opgerig namate hulle behoefte om al hoe meer tyd aan hul eie opnames te spandeer, geleidelik begin toeneem het. Christo en Cobus se eertydse platemaatskappy was so beïndruk met die kwaliteit van hul eerste produksie dat hulle hul versoek het om ook van hul ander kunstenaars se produksies te behartig. Die een produksie na die ander het gevolg totdat die voortdurende vraag na betroubare opname-fasiliteite in 2008 uiteindelik tot die oprigting van die tweede SMP-ateljee gelei het.